RSS

Hanno se Kerriehoender

22 Jun

As daar nou een resep is wat in ons gesin ‘n treffer was, was dit my ma se kerriehoender.  Hetsy dit ‘n verjaarsdag, kersete, spesiale geleentheid of net ‘n gewone wintersaand was – as ons ‘n keuse gehad het in die spyskaart, het ons gevra vir kerriehoender…  Hierdie is my weergawe, met klein veranderings!

3 uie, gekerf
250g sampioene, in helftes gesny
5ml knoffel
2kg hoenderdye
30ml Rajah Mild kerriepoeier
15ml borrie
1 tamatie, gesnipper
1 blik perskes
30ml blatjang
30ml asyn
750ml kookwater
125ml Bulgaarse jogurt 

Sous:
60ml koekmeel 
45ml tamatiesous
30ml Worcestersous
15ml asyn

Braai die uie, knoffel en sampioene in ‘n bietjie olie.  Voeg die hoenderstukke saam en braai tot ligbruin.  Voeg die kerriepoeier en borrie by en braai vir so minuut saam.  Voeg dan die tamatie, perskes met sy stroop, blatjang en asyn by en verlaag die hitte.  Voeg die kookwater by, geur met sout (ek geur gewoonlik so 5ml per kilogram vleis), bedek en kook tot die hoender gaar is en maklik van die been afkom.  Skep die hoenderstukke uit, ontbeen en hou eenkant.  Meng die bestanddele vir die sous saam en gooi by die sous van die hoender.  Bring tot by kookpunt en voeg die vleis by.  Kook oor lae hitte tot die sous lekker dik is.  Geur met sout en peper na smaak.  Haal van die hitte af en roer die jogurt by.  Bedien saam met jou keuse van rys.

 
Lewer kommentaar

Posted by op 22 Junie, 2012 in Hoender

 

Etikette: , , , , , , , , , , ,

Comments are closed.

 
%d bloggers like this: