RSS

Hanno se Spesery-aartappels

Suid-Afrikaners het dit reggekry om aartappels op enige manier te bedien.  Veral saam met braaivleis.  Hierdie gereg het toevallig gebeur toe ek een middag in die middel van die proses om aartappelslaai te maak, besef het dat ek nie mayonnaise in die yskas het nie.  En toe maak die boerseun ‘n plan…

2 uie, geskil en in repies gesny
botter
1 teelepel knoffel
400g sampioene, in kwarte gesny
1kg aartappels
1 eetlepel koljander
1 eetlepel paprika
Egiptiese Dukkah

Skil die aartappels (as jy dit so verkies) en sny in 1cm dik skywe.  Kook in soutwater tot sag, maar ferm.  Braai intussen die uie in botter oor matige hitte tot sag en voeg dan die knoffel by.  Verlaag die hitte en gooi die koljander en paprika by.  Dreineer die aartappels en gooi dit in die speserymengel en roer goed deur totdat die aartappels allekantig met speserye bedek is.  Skep in ‘n opdienbak en gooi Dukkah oor.

Dukkah is ‘n Egiptiese speserymengsel met sade, neute en speserye.  Redelik maklik verkrygbaar by groter supermarkte.

 
Lewer kommentaar

Posted by op 26 Februarie, 2013 in Bygeregte

 

Tags: , , , , , , , , , , , ,

Hanno se Pastaslaai met tamatie, avo en feta

Hierdie pastaslaai het baie perongeluk gebeur so paar dae na Kersfees toe ek ‘n paar van die oorskietgeregte in die yskas bymekaar gegooi het.  Dit is die ideale slaai vir wanneer daar ‘n groot klomp mense by jou kom eet.

500g pastaskulpies
2 middelslag uie
250g sampioene
1 blik tamaties (Sliced & Diced Italian Tomatoes with Basil, Garlic & Origanum)
60ml olie
60ml asyn
60ml blatjang
60ml tamatiesous
60ml suiker
10ml matige kerriepoeier
10ml sout
4 groot avokado’s
30ml suurlemoensap
3 wiele fetakaas
250ml natuurlike jogurt

Begin met die sous.  Braai die uie tot sag in ‘n bietjie botter.  Gooi die sampioene by en braai tot sag.  Gooi die tamaties by en kook stadig oor lae hitte tot die sous nie meer waterig is nie.  Gooi die olie, asyn, blatjang, tamatiesous, suiker, kerriepoeier en sout by die tamaties en verlaag die hitte tot op sy minimum.  Kook die pasta in baie water en sout.  Dreineer en meng dadelik met die warm tamatiesous.  Laat afkoel tot by kamertemperatuur en roer dan die jogurt by.  Gooi in ‘n groot slaaibak.  Sny die avokado’s in groterige blokkies, plaas in ‘n mengbak en gooi die suurlemoensap by (suurlemoensap maak dat die avokado’s nie swart word nie).  Geur met sout en peper en meng liggies.  Skep die avokado’s in ‘n laag bo-op die afgekoelde slaai.  Sny die fetakaas in blokkies en skep in ‘n laag bo-op die avokado’s.  Plaas in die yskas tot opdiening.  Genoeg vir 12-16 mense as ‘n slaai.

Vir ‘n hoofgereg, voeg gekerfde biltong wat nog effens klam is by wanneer jy die jogurt byroer.  Genoeg vir 8 mense as ‘n hoofgereg.

 

 
Lewer kommentaar

Posted by op 17 Januarie, 2013 in Bygeregte, Pasta

 

Tags: , , , , , , , , , , , , , , , , , , , , , , , , ,

Hanno se Kersfees-vrugtekoek-roomys

As kind het my tannie altyd trifle gemaak vir die Kersfeestafel.  Dit is die ideale poeding vir ‘n warm Kersdag.  Maar ek was nooit gaande oor jelly nie, so ek het nog altyd ‘n poeding gesoek wat naby daai trifle kom, maar sonder die jelly.  Ek dink ek het hom gekry…  Dit is nie nodig om die duurste, tuisgemaakte vrugtekoek te gebruik nie – koop ‘n goedkoper een en krummel hom in die roomys in.  Die roomys opsigself is reeds ryk en romerig genoeg, selfs al is die vrugtekoek bietjie droog…

2 eiers
187,5ml (driekwart koppie) suiker
250g maaskaas
500ml room
187,5ml (driekwart koppie) melk
1 pakkie Caramel Kitspoeding
‘n Paar snye Vrugtekoek

Klits die eiers en suiker saam in ‘n mengbak met ‘n elektriese klitser tot romerig.  Voeg die maaskaas by en roer goed deur.  Hou eenkant.  In ‘n ander mengbak, klits die room, melk en kitspoeding saam tot styf.  Gooi die eiermengsel by en klits net vinnig deur tot die twee gemeng het.  Sit Gladwrap oor en plaas in die vrieskas. Haal elke uur uit en klits vinnig, plaas dit dan weer terug.  Na omtrent 5 of 6 ure sal die roomys begin vorm neem.  Krummel dan die vrugtekoek (soveel of so min as wat jy wil) in die roomys in, roer goed deur en skep dan in ‘n plastiek houer en vries.

Vir die wat meer waaghalsig is, kan saam met die vrugtekoek enige van die volgende ook byroer nadat jy dit die laaste keer geklits het:  neute, sjokolade, gekookte kondensmelk of ander lekkernye.

 
Lewer kommentaar

Posted by op 16 November, 2012 in Soetgoed

 

Tags: , , , , , , , , , , , , , , , ,

Hanno se Varktjops met blatjang-en-kruie-sous

Wie kan nou ‘n taai, soet-suur varktjoppie weerstaan?  Hierdie is ‘n lekker resep vir wanneer jy te laat wakker geskrik het om die vleis te marineer.  Mens kan hierdie sous as ‘n marinade ook gebruik, maar werk net so lekker as jy hom oor die tjoppie smeer terwyl hy braai oor die kole…

125ml blatjang
50ml heuning
5ml droë gemengde kruie
5ml mosterdpoeier
5ml aromat
3ml kerriepoeier

Meng al die bestandele saam.  Smeer ‘n eetlepel oor elke tjops nadat jy dit die eerste keer omgedraai en gesout het.  Smeer beide kante van die tjops.  Genoeg vir 4-6 varktjops.

 
Lewer kommentaar

Posted by op 16 November, 2012 in Vark

 

Tags: , , , , , , , , , , , , , , , , , ,

Hanno se Skons

Hierdie resep is seker bedoel om uitgerol te word en met ‘n drukkertjie perfekte, ronde skons uit te druk…  Maar wie het tyd of lus vir dit?  My ma het ‘n groot bal in haar hande platgedruk en met ‘n mes in vier gesny.  Dit is ook hoe ek dit maak – selfs vir fancy mense.  Hierdie resep bring herinneringe terug van skoolvakansies by die huis saam met my ma en twee sussies…

1 eier
150ml melk
25ml olie
500ml koekmeel
2ml sout
15ml bakpoeier

Klits die eier, melk en olie saam met ‘n vurk in ‘n maatbeker.  Sif die meel, sout en bakpoeier saam in ‘n mengbak.  Maak ‘n holte in die middel en gooi die vloeistof daarin.  Sny die meel in die vloeistof in met ‘n bottermes totdat dit ‘n ronde bal deeg is wat nie aan jou hande vaskleef nie.  Indien dit wel kleef, strooi nog bietjie meel by.  Verdeel die bal in vier kleiner balle.  Druk die bal in jou hand plat en sny in vier.  Versprei eweredig op ‘n voorbereide bakplaat en bak vir 12-15min op 200 grade.

 
Lewer kommentaar

Posted by op 16 November, 2012 in Brood

 

Tags: , , , , , , , ,

Hanno se Melktert

Die lewe is soms onregverdig, koud en smaakloos.  Dit is dan wanneer mens melktert moet eet!  Hierdie is nog ‘n resep wat altyd op die verjaardagtafel was in ons huis.  Hiervan sal ek eet tot ek lê…  En dan nog ‘n stukkie eet voor ek weer opstaan!

75ml botter
250ml suiker
4 eiers
250ml koekmeel
5ml bakpoeier
knippie sout
1 liter volroom melk
5ml vanilla geursel
kaneelsuiker

Sorg dat jy vooraf die botter af meet en op ‘n warm plek laat staan sodat dit baie sag is.  Skei die eiers versigtig.  Klits die botter, suiker en eiergele goed saam tot romerig met ‘n elektriese klitser.  Sif die meel, bakpoeier en sout saam en voeg by die eiermengsel.  Meng deur met ‘n lepel.  Voeg die melk bietjie-bietjie by en meng goed deur, voeg daarna die vanilla by.  Klits die eierwitte tot styf en vou in die melkmengsel in.  Gooi in ‘n voorbereide bak, strooi kaneelsuiker bo-oor en bak vir 50min op 180 grade.  Toets die melktert om te kyk of hy in die middel gestol het – indien nie, bak nog 10min tot gestol.

 
Lewer kommentaar

Posted by op 14 November, 2012 in Soetgoed

 

Tags: , , , , , , , , , ,

Hanno se Piesangbrood met gemmer

Ek het al baie lekker piesangbrood geëet, en ook al baie slegtes.  Ek hou van ‘n donker, klam piesangbrood waarvan die korsies sag is, en nie swart gebrand nie.  Hierdie resep is perfek.  As jy nie van die gemmer hou nie, kan jy dit net uitlos…

125g botter
375ml suiker (verkieslik bruin)
15ml gouestroop
4 piesangs, fyngedruk
2 eiers
625ml bruismeel
3ml koeksoda
5ml kaneel
10ml gemmer
5ml vanillageursel
30ml melk

Sorg dat die botter by kamertemperatuur is.  Gebruik ‘n elektriese klitser en klits die botter, suiker en gouestroop saam.  Voeg die piesangs by en klits.  Gooi die eiers by en klits.  Gooi die droë bestanddele by en meng met die piesangmengsel.  Gooi die melk en vanilla by en meng liggies.  Gooi in ‘n voorbereide broodpan en bak vir 1uur op 180 grade.  Toets die broodjie met ‘n mespunt.  Hy hoef nie heeltemal droog uit te kom nie, want die broodjie moet nog bietjie klam wees.

 
Lewer kommentaar

Posted by op 9 November, 2012 in Brood

 

Tags: , , , , , ,

 
Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 51 other followers

%d bloggers like this: